← Back to list

Gesuiwer… in die woestyn.

1 Petrus 1:6–9

Volg Hom · 2026-03-18 17:10 · 0 claps · 4.6 min read
#christianity #reformation #dogs #jesus #purification
Open on Medium ↗
Wiki topics: 🕊️ · Religion

Gesuiwer… in die woestyn.

1 Petrus 1:6–9

Hy ken my pad; as Hy my toets, is ek suiwer soos goud. Ek volg Hom waar Hy gaan en hou op sy pad en draai nie af nie.

Job 23:10–11 [1933/53]

Wat ek vandag glo, het nie uit gevoel gegroei nie — maar uit die Woord wat my oortuig het.

In hierdie joernaalinskrywing wil ek bietjie stilstaan by waarom ek glo wat ek glo, en hoe ek by daardie oortuigings uitgekom het.

Daar was ’n lang en intense woestynperiode in my lewe. ’n Tyd van dwaling, maar ook ‘n tyd van suiwering. Ná daardie tyd kan ek nie meer mooi onthou wat my vaste oortuigings oor sekere sake vóór dit was nie. Wat ek wel weet, is dat daar beslis liberale, progressiewe, en selfs ’n mate van *New Age*-sinkretisme in my denke was.

Ek het nie ’n duidelike, afgebakende oortuiging gehad dat geloof in Christus die enigste ware weg is nie. (Hoe naïef kan ’n mens wees, wonder jy dalk nou — want die Skrif stel dit tog duidelik: Jesus sê self dat Hý die Weg én die Waarheid én die Lewe is, en dat niemand na die Vader kom behalwe deur Hom nie — Johannes 14:6.)

Tog het ek êrens in my agterkop met die idee gesit dat die Joodse geloof en Islam maar net “afstammelinge” of vertakkings is. Miskien kan hulle tog ook in die hemel kom? Wie is ek nou om grense aan God se genade te probeer stel?

Ek het ook geen probleem gehad met joga (wat ek vir ‘n tyd lank self beoefen het), meditasie (jip — ook hierdie een probeer…), Boeddha-beelde, en allerhande voorwerpe of gebruike uit ander gelowe en kulture nie. Hêng, ek het amper eenkeer ‘n naweek-’retreat’ by die Nan Hau Boedistetempel in Bronkhorstspruit gaan bywoon, nadat ons eendag soos regte toeriste daar gaan rondloop het. Daar het ek my heeltemal vergaap aan die groot “pragtige” beelde, die kalmerende klanke van die ‘singing bowls’ en die atmosfeer van “gewyde” stilte. Wie sou nou níé hierheen wou kom vir ‘n naweek om ‘n bietjie Oosterse wysheid en vrede te soek nie?

Ek het nie self ’n Boeddha-beeld in my huis gehad nie, maar met tyd — wie weet of so iets nie dalk ’n plek sou vind nie? Wat ek wel gehad het, was droomvangers, feetjies, ‘n ‘evil eye amulet’ (want dit was vir my mooi — insert face palm here…), en nog ’n klomp ander goed. Alhoewel ek niks daarvan aanbid het nie, het dit tog ’n plek in my huis gekry — en dit was “mooi om na te kyk”. Amper soos die vrug vir Eva gelyk het: “mooi om na te kyk…” (Genesis 3:6 [1983]).

Wel — ék was verkeerd.

Wat ek as oopkop en verdraagsaam gesien het, was eintlik ’n vermenging van waarheid en leuen — net soos daardie eerste leun in die tuin (Satan is maar ‘n “one-trick pony” — gaan lees sommer maar weer die hele Genesis 3).

Vandag sien ek dit duidelik: al hierdie dinge is deel van die wêreld se sinkretisme, en dit het geen plek in ’n heilige lewe wat aan God toegewy is nie. My oë moes eers regtig oopgaan hiervoor — en nou kan ek dit nie ‘unsee’ nie.

Al het ek as Christen grootgeword, het ek nie werklik besef wat die evangelie éíntlik beteken nie — óf wat Christus se dood aan die kruis vir my (én jou) beteken het nie. Vandag verstaan ek beter wat dit is om wedergebore te wees (2 Korintiërs 5:17). Ek sien ook nou dat ek destyds maar net ‘n kulturele Christen was, en nie ‘n belydende Christen nie — iemand wat daagliks myself verloën, my kruis opneem en Hom volg nie (Lukas 9:23).

Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltkoers in die aarde, gesuiwer sewe maal.

Psalm 12:7 [1933/53]

Die keerpunt het gekom toe ek eenvoudig net begin het om self die Bybel te lees, met ‘n soortvan *Sola Scriptura*-benadering (sonder dat ek dit op daardie stadium besef het), aangesien ek op daardie tydstip byna uitsluitlik nét die Bybel gelees het. Ek het in die Nuwe Testament begin, maar dit gereeld afgewissel met gedeeltes vanuit die Ou Testament.

Stadig maar seker het dit wat ek vandag glo uit daardie lees gegroei.

Terwyl ek gelees het, het ek begin wonder: Wat het die eerste-eeuse Christene geglo? Hoe verskil dit van wat ons vandag glo — met al ons kennis en verstand? (voel vir my of ons maar weer kan terugblik daar na Eva in die tuin; “en die boom van die kennis van goed en kwaad” Genesis 2:9 [1935/33]).

So het ek toe op apologetiek (apologetics) afgekom, en dit het vir my ’n hele nuwe wêreld oopgemaak. (Waarom leer ons nie meer hiervan in die kerk nie?) Ek het selfs ontdek dat van die vroegste Christelike belydenisse sommer in die Woord van God self voorkom — soos in 1 Korintiërs 15:3–8, 1 Korintiërs 11:23–26, en Kolossense 1:15–20.

‘n Vriendin het voorgestel dat ek *The Case for Christ* kyk. Die film het my so aangegryp dat ek dadelik daarna ook die volledige boek gelees het — en dit bly tot vandag nog een van my gunstelinge. Dit vertel die ware verhaal van ’n ateïs, Lee Strobel, wat probeer het om die werklike bestaan, dood, en opstanding van Christus te weerlê. Maar deur sy eie ondersoek en feitelike benadering het hy homself uiteindelik oortuig van die waaragtigheid van ons Messias en die evangelie. Gedurende hierdie proses het hy dus tot bekering gekom — en is hy ook so gesuiwer.

Die getuienise vanuit die Skrif self — want die Woord moet die Woord verklaar (Skrif verklaar Skrif) — saam met die oproep om, soos die Bereërs, alles aan die Skrif te toets (Handelinge 17:11), het ’n diep anker in my geword, sodat ek “nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer” nie (Efesiërs 4:14). Ook die geskiedenis, antropologie, en argeologie het vir my die betroubaarheid van die Woord bevestig — en daarmee saam ook die waarheid van Sy leer.

Ek weet nou dat God onverdeelde trou aan Hom vereis (Eksodus 34:14; Deuternomium 6:15) — dat ons daarna moet streef om heilig te wees, soos Hy heilig is (1 Petrus 1:13–25, veral verse 15–16); en dat enige iets minder as dit lou Christenskap is, waarop Christus jou op die laaste dag sal uitspoeg (Openbaring 3:15–16).

Ek sou nie die woestyn wou oorslaan nie. Want dit was juis dáár waar ek gesuiwer is.

Dit alles het my uiteindelik ook na my eie Geloofsverklaring gelei. Dit het my laat besef hoe belangrik dit is om nie net te weet wát ek glo nie — maar ook wááarom ek dit met oortuiging en vertroue kan glo.

Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos ‘n mens silwer louter.

Psalm 66:10 [1933/53]


메타데이터
post_id
7f27b7af5b2d
slug
gesuiwer-in-die-woestyn-7f27b7af5b2d
url
https://medium.com/@volg-hom/gesuiwer-in-die-woestyn-7f27b7af5b2d
canonical_url
https://medium.com/@volg-hom/gesuiwer-in-die-woestyn-7f27b7af5b2d
author_url
https://medium.com/@volg-hom
status
ok
fetched_at
2026-06-15 20:49:13